Toiletrolhouers - Tokreen

Search
Go to content

Main menu:

Toiletrolhouers

Projects > 2014

Ons sal elke maand 'n stap-vir-stap projek publiseer - 'n projek in Afrikaans en 'n projek in Engels.
Ons hoop dat die projekte mense sal inspireer om met Tokreen te eksperimenteer.  


Maart projek: Toiletrolhouers     

BENODIGDHEDE:
500 ml swart Tokreen
2 x 750 g koffieblikke
1 x dun Masonite (hardboard) sirkel wat pas op koffieblikke as deksel
2 x dikker Masonite (hardboard) sirkels - deursneë van 11- en 14 cm
1 m t-hemp materiaal
Toiletpapier/servette
Syblomme en blare
Houtkrale, skulpe, kurkproppe, akkers, sade, ens.
Metaalverwe:  goud, silwer, brons en koper
PVA/Akrielverf

METODE:

  • Sny die eerste blik se bodem met 'n blikoopmaker uit. Sny ook die randjie af aan die bo-kant van albei blikke.

  • Verf albei blikke met Tokreen aan die binne- sowel as aan die buitekant.  Laat droog word.

  • Sit die twee blikke op mekaar en sny 'n reep materiaal van ongeveer 8 cm breed wat om die lasplek sal pas. Verf Tokreen aan die buitekant waar die twee blikke las en plak die reep materiaal stewig om die lasplek vas.  Verf Tokreen oor die reep materiaal en laat droog word.

  • Terwyl die blikke droog word, kan jy solank die houtdeksel vir die blikke maak.  Verf die deksel bo en onder met Tokreen en laat droog word. Sny 'n sirkel uit die t-hemp materiaal van ongeveer 17 cm in deursnee.  Verf die bokant van die deksel met Tokreen en plak die materiaalsirkel op die deksel vas.  Frommel die materiaal liggies sodat dit klein plooitjies vorm wat presies op die deksel pas.  Druk die materiaal stewig vas, verf Tokreen oor die materiaal en laat droog word. Plak 'n kraal, klippie, akker, kurkprop of wat ook al, in die middel van die deksel met Tokreen vas.

  • Sny die twee masonite houtsirkels uit en verf Tokreen aan die bokant van de groot sirkel en aan die onderkant van die kleiner sirkel en plak die twee sirkels opmekaar vas. (Onthou:  Tokreen is ook 'n gom!) Laat droog word.

  • Verf die binnekant van die blikke met 'n tweede laag Tokreen.

  • Verf die onderkant van die blikke met 'n dik laag Tokreen en plak op die sirkels vas.  Die blikke pas presies oor die kleiner sirkel en op die groter sirkel.  Dit word die bodem van die toiletrolhouer.

  • Sny 'n reep materiaal van ongeveer 37 cm x 45 cm.  Laat die blikhouer op sy sy lê en verf 'n strook met Tokreen.  Druk die materiaal op die strook nat Tokreen vas terwyl jy die materiaal liggies frommel.  Jy kan die blik ook regop hou wanneer jy die materiaal omplak. Gebruik die metode wat jou pas.

WENK:  
Plastiese sakkies is repe gesny kan oor die materiaal aan die bo- en onderkant van die houer vasgemaak word om te help dat die materiaal in plek bly om die houer. Haal die plastiese repe na 'n tyd versigtig af.

  • Laat droog word en gee die projek aan die buitekant 'n tweede laag Tokreen.

  • Verf die syblomme en blare met Tokreen en laat droog word.  Gee die blomme en blare drie lae Tokreen vir ekstra stewigheid en laat droog word tussen elke laag.

  • Maak 'n mengsel van Tokreen en repe toiletpapier/servette - nie te waterig nie.

  • Laat die houer  lê. Smeer van die mengsel redelik dik aan onder die blare en blomme en plak op die houer vas.  Laat goed droog word. (Sien foto's)

  • Gebruik die metaalverwe om die blomme en houers te verf of verf die houer met die metaalverwe en die blomme en blare met akrielverf - kleure van jou keuse.  Laat goed droog word en sprei die hele artikel die volgende dag met 'n lagie "Clear lacquer spray".

  • Die toiletrolhouer is groot genoeg vir 3 rolle toiletpapier.    


 
Copyright 2015. All rights reserved.
Back to content | Back to main menu